Skryf 'n Liefdesverhaal

 
 
Jy is 'n ywerige liefdesverhaalleser en nou is jy reg om jou eie liefdesverhaal te skryf. Skuif nader - hier gee ons raad en leiding om die skryfproses makliker te maak.

Ons liefdesverhale (Melodie, Satyn, Hartklop, Mirre) is ongeveer 55 000 woorde lank. Jy het dus nie tyd om 'n lang, uitgerekte verhaal te vertel nie. Jou leser moet van bladsy een ingetrek en gehóú word. Hier is 'n paar wenke uit die redakteur se kantoor:

Skryf eers vir jouself 'n kort opsomming, hoogstens 'n halfblad lank, van die storie. So weet jy wat die hart daarvan is.

 

  • Ken jou held en heldin en laat hulle mekaar binne die eerste hoofstuk al ontmoet.
  • Fokus op die verhouding tussen jou held en heldin. Maar moenie dat hulle - of jou leser - op een slag alles wat daar oor hulle is leer nie. Breek die inligting in segmente op en laat jou karakters mekaar so stuk-stuk leer ken. Wys stelselmatig vir jou leser wie die held en heldin nou eintlik is.
  • Maak seker dat daar van die begin al konflik én 'n seksuele aantrekkingskrag tussen jou held en heldin is. (Jou leser moet dink: hier kom moeilikheid!)
  • Gebruik baie dialoog. Dit versnel die tempo van 'n verhaal en is 'n wonderlike manier om inligting oor te dra.
  • Die newekarakters is ondersteuning vir die hoofkarakters se verhaal - hulle hoef nie ook nog hulle eie uitgebreide storie te vertel nie.
  • Hou jou woordtelling dop: jy moet van die begin af genoeg intrige en aksie hê sodat jou leser elke keer net nog een blasy wil lees…
Gaan lees gerus ook watter raad die gesoute liefdesverhaalskrywers gee. 

Die soort wat elkeen voor die kansel wil hê: raad met karakters - Ettie Bierman


(N.a.v. 'n praatjie gelewer by die Liefde is vir ewig-kompetisie se werkswinkel, 19 April 2008)

Daar is baie slaggate waarin nuwe skrywers kan trap. Van die belangrikste raad wat ek kan gee, is: Die leser moet van die held en heldin hou.

Dis nie genoeg om die heldin maar net beeldskoon te maak nie. Maak haar ook mooi van binne. Laat haar weet van "asseblief" en "dankie" en "jammer". As daar 'n ma of pa in die storie is, laat sy ordentlik optree, ook teenoor ondergeskiktes, vreemdelinge of kinders, selfs diere. My ma het altyd gesê sy vertrou nie 'n man met 'n wit broek of een wat nie van diere hou nie. Ek gee nou nie so baie om oor die broek nie. 'n Wit broek is vir my nogal mooi! Maar die diere-ding pla my beslis! As 'n held nie van diere hou nie, hou ek nie van hom nie. Net so met 'n heldin; mense vang sommer maklik 'n gly in haar.

As die meisie bv. die ou in die storie wegstuur uit haar lewe, laat dit eerder wees as gevolg van 'n misverstand, nie sommer net in 'n woede-uitbarsting of omdat sy wispelturig of hardgebak is nie. Vermy dat sy kru taal gebruik of te veel drink. Gee haar 'n sagter kant ook en 'n sin vir humor - lesers geniet 'n bietjie speelsheid en spitsvondige dialoog.

Dieselfde met die held: moet hom nie eendimensioneel teken nie. Hy kan nie bloot net macho wees nie. Gee hom ook 'n tikkie sagtheid, bietjie sentiment en maak hom grootmoedig genoeg om die minste te kan wees en verskoning te kan vra.

Die verhouding tussen die held en die heldin moenie bloot net wees: Boy meets girl, boy fights with girl, boy marries girl nie. Gebruik die verhouding se hoogtepunte en laagtepunte soos 'n gloeilampie wat jy aan- en afskakel. Die verhouding moet voortdurend wipplank ry. Maar nie net baklei en stry; opmaak en uitmaak, ens. nie. Tussen hierdie hooftrekke deur, bou jy jou karakters en leer die leser hulle beter ken.

Die driehoek is 'n nuttige tegniek. Dit bou spanning sodat die leser enduit moet lees om seker te maak sy kies die regte man. Naas die held en heldin is daardie derde en vierde karakters baie belangrik. Moet verkieslik nie die hele plot net om die held-heldin bou nie. Teken ook 'n ander oulike ou iewers in die vleuels. 'n Ou wat net wag dat die held struikel, dan storm hy op die verhoog en raap die heldin in sy arms op. Of skets 'n oulike ander meisie wat bv. jare al verlief is op die held, en sy gaan hom inpalm as die heldin steeks is. Skets hierdie ander karakters elk met 'n persoonlikheid wat vir die leser aantreklik is, sodat hy nie dadelik sal weet watter een die heldin of held gaan kies nie.

Probeer om van daardie amper-held of -heldin ook 'n wenner te maak. Vermy dat die leser op die einde sug en dink: Ag, hy of sy was dan so 'n gawe mens, en nou sit hulle droëbek alleen in die wildernis. Mense hou van wenners, nie verloorders nie. Gee die verloorder 'n soort troosprys. Maak hom dalk geskei of iets. En op die einde kom sy eks, op wie hy eintlik nog verlief was, terug. Maar moenie dat sy uit die bloute aan die hare bygesleep word nie. Plant vooraf 'n paar leidrade hier en daar. Bv. haar foto wat nog steeds êrens in die ou se huis hang. Of sy bel op sy verjaarsdag en hy is vol verlange wat hy probeer wegsteek.
As jy 'n skrywer is wat jou intrige ver vooruit beplan, oppas. Ek ken iemand wat die hele einde van haar manuskrip moes oorskryf omdat haar derde karakter, oftewel "tweede held", in die skryfproses so ontwikkel het dat hý eintlik die held geword het, en sy hom aan die einde uitgeskop het net omdat sy dit vooraf so beplan het. Ek vind dit makliker om spontaan te skryf, sonder notas, en net die karakters te laat "oorvat" soos die storie aangaan.

Gebruik interessante newekarakters: 'n vriendin of suster of broer, ma of tante wat as klankbord gebruik kan word om inligting of emosie oor te dra. Die leser leer 'n karakter dikwels beter ken deur wat ánder karakters van haar of hom sê, sommerso in 'n terloopse opmerking. Moet jou karakters nie té wit of té swart teken nie. Selfs 'n feeks behoort 'n paar menslike eienskappe te hê om haar geloofwaardig te maak. Laat die held ook soms gly, en die "skurk" die leser verras en vir hom 'n paar brownie-punte verdien.

Dis makliker om inligting oor te dra d.m.v. dialoog, die dinge wat jou karakters sélf sê of wat ánder karakters van hulle sê, eerder as dat die verteller láng paragrawe aan die woord is. (Lesers slaan dikwels ellelange paragrawe oor. Hulle wil aangaan met die storie, sien wat verder gebeur …) Die held se ma kan byvoorbeeld vir die heldin sê haar seun se eks het hom verkul met 'n ander ou wat ryker as hy is. Nou wantrou hy alle meisies omdat hy dink hulle is fortuinsoeksters.

Moet nooit dat die verteller so iets sê nie; gebruik newekarakters om sulke inligting oor te dra.

Oppas dat al jou karakters nie almal dieselfde soort woordgebruik het nie. Alle mense praat immers nie eenders nie. Die dominee en die graad sessie en die Griekse kafee-eienaar se taalgebruik sal verskil. Soos my Afrikaanse onnie gesê het: Jy moet elkeen se hartslag kan hóór. Wees oorspronklik en vermy dat almal soos sepiekarakters praat. Teken jou karakters so dat elkeen 'n bepaalde taalgebruik het en sy eie uitdrukkings gebruik. As jy sleng gebruik, of gekruide taal, dan net een of twee karakters, nie álmal nie.

En die goue reël: MOENIE VERTEL NIE - WYS! In Engels: Don't tell - show. Moenie bv. elke keer sê: hy is woedend kwaad nie. Of smoorkwaad nie. Wissel dit af met iets soos: hy skop die stoel dat dit dáár trek of slaan met sy vuis teen die muur. Dit is WYS i.p.v. VERTEL.

Aspirant-skrywers vra dikwels: "Hoe begin mens skryf? Ek het alles gelees wat daar oor die skryfkuns te lese is en ek weet nog steeds nie ..." Ek self het inspirasie geput uit wat Grace Metallios (skrywer van Peyton Place) gesê het: "You apply the seat of your pants to the seat of a chair behind a typewiter." En ek voeg by: "Don't talk the walk. Walk the talk. Just sit down and DO it!" Moenie wag vir die muse nie. Die muse skop net in wanneer jy volstoom aan die skryf is.



 


 

 

Oor hierdie skrywer

Elize Mitchell

Elize Mitchell het eers op rype ouderdom begin skryf. Met haar eerste romanse, Seisoen van ons liefde, was sy ’n finalis in die Liefde is vir...

Lees meer...

SPLINTERNUUT

Donna en die droomman | Romance & Sagas

Anita du Preez

Donna Ferguson, kreatiewe direktrise van Buitenkant Produksies, is ’n eenkantmens en ’n realis. Maar wanneer Donna by ’n kunsuitstalling oogkontak maak met ’n...

Lees meer...

Ena Murray Keur 7 | Romance & Sagas

Ena Murray

In As die lied verstil verlaat Chrissie Erasmus haar ouma se huisie in Dennedal en word Christine van Johannesburg, al het haar ouma so gedroom van ’n huwelik...

Lees meer...